Die dogter van die Britse egpaar van Mooirivier beweer die polisie het haar ouers se saak opgeduiwel.
’n Grusame bekentenis waarin beweer word dat haar ouers vir muti vermoor en opgesny is, spook steeds by Kate Anderson aangesien die verdagtes in die Mooirivier-egpaar se saak steeds hul vryheid geniet.
Dít nadat Anthony (73) en Gillian Dinnis (78), oorspronklik van Kent in die Verenigde Koninkryk, op 30 Augustus verlede jaar spoorloos van hul plaas in KwaZulu-Natal se Mooirivier-omgewing verdwyn het.
’n Ontstelde Anderson,die dogter van die Britse egpaar, het vandeesweek in ’n onderhoud met Rapport haar pyn en frustrasie gedeel.
“My ouers is geslag. Hulle was oud, weerloos en het net mekaar gehad. Wie doen so iets aan mense?”
Anderson het haar tasse gepak en van Kaapstad af na haar ouer se plaas gehaas toe sy die ontstellende nuus ontvang het dat die afgetrede egpaar verdwyn het. Sy het aan Rapport gesê toe sy op Dinnis se bees- en groenteplaas aankom, was hul halfklaar borde en glase vrugtesap nog op die kombuistafel.
Hul vier honde – een van hulle uiters verward – het doelloos by haar pa se Land Rover rondgedwaal. Anthony se beursie was nog in die kamer.
“Hulle is weg, asof vreemde wesens hulle gevat het,” het Anderson gesê.
Sewe dae ná hul verdwyning is SMS-boodskappe in isiZulu vanaf Gillian se selfoon aan een van haar vier broers, Sam Dinnis, gestuur waarin ’n losprys van R2 miljoen geëis is.
“Om dinge maklik te maak, betaal net R2 miljoen in hierdie bankrekeningnommer as jy jou ouers weer wil sien,” lui die boodskap (vertaal uit isiZulu).
Die bankrekeningnommer was dié van haar ma.
Volgens Anderson het die familie toe die polisie versoek om meer hulpbronne toe te wys om die soektog te verskerp.
Toe sy gevra het dat haar ma se foon dopgehou word, het die polisie egter glo vir haar gesê dat hulle net een gryptoestel het en dat dit in ‘n ander saak gebruik word.
Toe sy vir ‘n helikopter vra om te help, is daar aan haar gesê twee van hul drie helikopters het neergestort en die derde een was gebreek.
Anderson het gesê die egpaar se tuinier is verskeie kere in haar pa se dagboek genoem.
Aangesien selfoonontvangs in Middelrus baie swak is, het Anderson en haar dogter aan die polisie gesê daar sal net twee plekke wees waar die teksboodskappe vandaan gestuur kon wees – vanaf die gemeenskapsplaas of die kerk.
Dit het daartoe gelei dat die polisie die vermiste egpaar se tuinier op 16 September by die kerk opgespoor het – met Gillian se SIM-kaart in sy eie foon.
The Citizen het vroeër berig oor ontstellende getuienis wat tydens die borgtogverhoor van een van die verdagtes – die 22-jarige Lungelo Mkhize – op 19 Maart by die Mooirivier-landdroshof opgeduik het.
In ‘n beëdigde verklaring wat deur speur-adjudant offisier Johannes de Lange by die hof ingedien is, het die tweede verdagte, wat die egpaar se tuinier was, na bewering aan die polisie erken dat hy een van drie mans was wat by die ontvoering betrokke was.
“Hy het ook aangedui dat hulle na die Dinnis-woning gegaan het en ‘n borselsnyer, kettingsaag en ‘n TV geneem het. Hy het onthul dat die ander twee mans met vuurwapens gewapen was. Daarna is hulle saam met die egpaar weg en is na ‘n ander woning, waar hulle die egpaar vermoor het,” het De Lange in die hof gesê.
Volgens die verdagte het hulle toe van die egpaar se liggaamsdele afgesny, wat hulle beplan het om vir R50 000 vir muti in Johannesburg te verkoop.
Sy borgtog is suksesvol teengestaan tydens sy borgtogverhoor, en hy het verskeie kere in die hof verskyn. Op 13 Junie 2024 vanjaar is die aanklagte teen hom egter teruggetrek, en hy is vrygelaat.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het Vrydag aan Rapport gesê die aanklagte teen hom is teruggetrek weens “onvoldoende bewyse”.
Provinsiale polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Simphiwe Mhlongo, het Vrydag bevestig dat die polisie aanvanklik twee verdagtes in hegtenis geneem het. Hulle is nie aangekla nie en is ná ondervraging vrygelaat. Een is later weer in hegtenis geneem.
Mhlongo het bygevoeg dat die ondersoek steeds aan die gang is.
Anderson het aan Rapport gesê sy het die verklaring van die verdagte gelees wat beweer het dat haar ouers se lyke opgekap en vir muti aan ‘n sangoma in Johannesburg verkoop is.
“My vraag is ook: Waar is die sangoma?”
Anderson het in die onderhoud onthul dat baie betroubare bronne aan haar gesê het dat die tweede verdagte beweer dat die polisie hom aangerand het.
Volgens die egpaar se dogter voel sy dat die saak “opgemors” is. Sy het gesê die polisiebeamptes het in die omgewing grootgeword en is dalk bang om dinge te veel op te roer.
“Is daar ‘n massiewe toesmeerdery?” het sy gevra en bygevoeg dat die polisiebeamptes in die omgewing grootgeword het en dalk bang is weens die muti-eise.
Anderson het gesê sy het e-posse aan die Valke en ander belanghebbendes gestuur en hulle gesmeek om nie die ondersoek te laat vaar nie. Sy het ook AfriForum se private vervolgingseenheid genader.
Volgens die Afriforum se woordvoerder, Barry Bateman, het hulle op 12 April ‘n brief aan die Valke in Pietermaritzburg gestuur om die vermiste Mooirivier-egpaar se familie op hoogte te hou van die stand van die ondersoek.
Bateman het aan Rapport gesê die eenheid sal die proses monitor en ingryp indien nodig.
(Citizen)