EMANGUZI – ‘n Nasionale taakspan wat na die noordelike dele van Natal ontplooi is om oorgrensmisdadigheid hok te slaan, het weer die suksesvolle skuldigbevinding van nog ‘n gesoekte oorgrensvoertuigkaper en -smokkelaar verseker.
Die Mtubatuba-landdroshof het die 37-jarige Sipho “Smirnoff” Mhlanga vandeesweek tot 53 jaar tronkstraf gevonnis. Mhlanga is in Augustus 2023 in hegtenis geneem en was verbind met ‘n sindikaat wat gekaapte en gesteelde voertuie van Suid-Afrika na Mosambiek deur verskeie grense in Natal gesmokkel het.
Mhlanga was sedert sy inhegtenisneming in aanhouding en is op 19 Junie 2024 skuldig bevind op 10 aanklagte van onder meer moord, roof met verswarende omstandighede en ontvoering.
In Junie 2023 is Mhlanga se medepligtige, Vusi Amos Malwane, deur die Ingwavuma-landdroshof tot 55 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Tot op hede het die taakspan wat in Februarie 2023 na Emanguzi ontplooi is 276 verdagtes gearresteer waarvan 107 steeds in polisie-aanhouding.
150 voertuie wat óf gesteel óf gekaap is, is teruggevind, met die meerderheid van dié wat teruggevind is 4 x 4-voertuie. Gedurende hierdie tydperk is 93 sportnutsvoertuie en of 4×4-voertuie en 57 sedans teruggevind.
135 van hierdie voertuie is aan hul wettige eienaars oorhandig.
Meer as 70 onwettige en ongelisensieerde vuurwapens is ook gekonfiskeer wat 14 gewere insluit.
Daar is ‘n gesamentlike aksieplan in plek tussen die Mosambiekse polisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat daarop gemik is om transnasionale misdaad in beide lande aan te spreek.
Die gesamentlike aksieplan het ten doel om te verseker dat ‘n toegewyde span van beide lande op ‘n gereelde basis vergader om gesamentlike oorgrensoperasies uit te voer met die doel om oorgrensvoertuigsmokkelary, -ontvoerings en veediefstal te voorkom en te bekamp.