’n Gesamentlike verdoemende verslag het aanbeveel dat amptenare van die Noord-Kaapse vervoerdepartement wat by bedrog- en wanadministrasie-aantygings betrokke is, aanspreeklik gehou word.
Die ondersoek deur die Kantoor van die Openbare Beskermer en die Staatsdienskommissie (SDK) het ernstige onbehoorlike optrede deur amptenare in die uitreiking van taxi-bedryfslisensies aan die lig gebring.
Die 2022-ondersoek deur die SDK en die OB se kantoor het begin nadat drie taxi-verenigings klagtes ingedien het oor ernstige dade van bedrog en korrupsie binne die departement se stelsel. Ten spyte van die departement se onwilligheid om op te tree na aanleiding van klagtes, het die ondersoeke aan die lig gebring dat hierdie klagtes geldig was.
Die Kommissaris van Staatsdienskommissie, Anele Gxoyiya sê die hele stelsel van taxi-bedryfslisensies is in die gedrang gebring.
“Mense het na die departement gegaan asof hulle winkel toe gaan. Hulle het ingestap en met lisensies uitgekom. Diegene wat die nodige prosedures gevolg het, het lang vertragings in die gesig gestaar, met sommige wat drie jaar gewag het sonder om lisensies te ontvang. Daar is ook gevalle waar individue bedryfslisensies besit, maar nie taxi’s besit nie.”
Daarbenewens het die ondersoek deur die Openbare Beskermer en SDK in die Noord-Kaap bevind dat sommige taxi-bedryfspermitte aan ander bestuurders verhuur is, terwyl ander verkoop is.
Permitte is vir tot R3 000 verhuur en vir soveel as R80 000 verkoop.
Mlungisi Khanya, wat die provinsiale Openbare Beskermer se kantoor verteenwoordig, het die dringendheid van optrede beklemtoon: “Die LUR moet verseker dat die sittende hoof van die departement in die Noord-Kaapse kantoor aanspreeklik gehou word vir die versuim om die aanbevelings van die ondersoekverslag deur mnr. Gerber en mnr. Busaletsi ten opsigte van onreëlmatighede in die uitreiking van bedryfslisensies uit te voer. Verder is dit noodsaaklik dat die LUR die spoedige implementering van hierdie aanbevelings verseker, insluitend die aanvang van dissiplinêre stappe teen geïmpliseerde amptenare.”
Van die amptenare van die provinsiale departement van vervoer is daarvan beskuldig dat hulle die prosesse van die uitreiking van permitte gemanipuleer het en hul magte as staatsamptenare misbruik het. ‘n Woordvoerder van die departement van vervoer, Rennie Andrias, sê dit noodgedwonge ‘n wettige roete volg om die bedrieglike lisensies terug te trek.
“Daar is ongeveer 14 aanbevelings wat die Openbare Beskermer-kantoor en Staatsdienskommissaris maak en ons beoog om almal ten volle te implementeer. Ons het reeds ‘n implementeringsplan oor hoe ons daardie aanbevelings gaan implementeer aan hulle voorgelê. Daar is aanbevelings wat van ons sal vereis om interne prosesse vir dissiplinêre verhore te volg, wat beteken dat ons daardie kollegas voldoende kennis moet gee. Ons moet hulle ook tyd gee om te reageer.”
Die Valke het ook bevestig dat misdadigerssake by die eenheid geregistreer is