Een verdagte is in hegtenis geneem ná ‘n skietgeveg met die polisie op die hoek van Albany Grove en Victoria Mxengeweg, voorheen Victoria Embankment, in Durban. Daar word beweer dat ‘n sakeman met ‘n vuurwapen deur drie verdagtes beroof is nadat hy geld by ‘n bank in Amanzimtoti, suid van Durban, onttrek het.
Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê ‘n skietgeveg het ontstaan toe die polisie probeer het om die verdagtes in die Durbanse middestad te onderskep.
“Die verdagtes het glo die slagoffer beroof van ‘n sak met sy besittings en ‘n klein bedrag geld. Die sak met ‘n groot bedrag geld wat die man pas onttrek het, is in sy voertuig gelos.
Die Sydenham Trio Crimes-span het die verdagtes se voertuig op die hoek van Broadstraat en Victoria Embarkment opgemerk. Die verdagtes wou nie stop nie en ‘n hoëspoed-jaagtog het gevolg. Hulle het op die polisie begin skiet en ‘n skietgeveg ontketen.
Die verdagtes se voertuig het tot stilstand gekom en een verdagte is gearresteer. ’n Soektog duur voort na twee verdagtes wat arrestasie net-net ontduik het.”