Dit het té maklik geword om die raskaart te speel en werkgewers is geneig om uit vrees vir politieke gevolge in te tree vir onskuldige slagoffers van rassismeklagtes.
Dr Hermann, bestuurshoof van Solidariteit sê baie mense se lewens is al as gevolg hiervan verwoes. “Om iemand vals van rassisme te beskuldig is ‘n daad van rassisme en ontslagbaar,” waarsku hy in reaksie na ‘n hofoorwinning van ‘n Solidariteit-lid wat valslik van rassisme beskuldig is en toe afgedank is oor die wyse waarop sy parkeerplek aan personeel toegewys het.
“Werkgewers wat dit toelaat is mede-aanspreeklik en howe het nou gewys dat dit nie geduld sal word nie,” sê Hermann. “Die arbeidshof het bevind daar is geen konkrete bewyse dat Brichard Pieterse, ‘n voormalige werknemer van South Bakels, opsetlik rassisties was toe haar toekenning van parkeerplekke aan personeel twee swart mense van hul parkeerplekke ontneem het nie.
Dit was eerder ‘n fout in die parkeerstelsel wat daartoe gelei dat die betrokke persone hul regmatige parkeerplekke volgens die indeling kwyt was,” sê Solidariteit in ‘n verklaring.
Pieterse was ongeveer ‘n dekade ‘n lojale werknemer van die maatskappy South Bakels. Twee van haar kollegas het haar egter van rassistiese optrede beskuldig toe sy personeelparkeerplekke moes toeken.
“Al het Pieterse bewyse gelewer van die proses wat sy gevolg het, en ofskoon een van die parkeerplekke buitendien aan ‘n ander swart vrou toegewys is, is sy vanweë hierdie aantygings van rassisme afgedank,” sê Solidariteit,
Die vakbond het ingetree en het ‘n saak namens Pieterse in die arbeidshof aanhangig gemaak. Die hof het tot die gevolgtrekking gekom dat Pieterse haar nié aan rassisme skuldig gemaak het nie, maar bloot ‘n menslike fout begaan het.
Die hof het South Bakels gelas om Pieterse met sowat R140 000 te vergoed vir die onreg wat sy moes verduur. Solidariteit sê die oorwinning in dié saak moet ook ‘n sterk boodskap aan werkgewers stuur dat afdanking weens ongegronde beskuldigings van rassisme nie geduld gaan word nie.
“Maatskappye wat vals klagtes van rassisme toelaat, is self skuldig aan rassisme. Dit is die hof se harde boodskap aan alle maatskappye,” sê Hermann.
(Maroela Media)