Drie renosterstropers is die afgelope week in die Krugerwildtuin doodgeskiet nadat hulle met gevaarlike wapens en stroperytoerusting betrap is, het SANParke Donderdag, 20 Junie 2024, gesê.
In die eerste voorval op 14 Junie 2024 het wildbewaarders teen sononder ‘n groep verdagtes teëgekom wat onder meer met ‘n hoëkalibervuurwapen en ‘n byl gewapen was.
‘n Wildbewaarder het een van die verdagtes op die toneel doodgeskiet terwyl die ander op vlug geslaan het. ‘n Vuurwapen en ammunisie het op die toneel agtergebly.
Laat die aand van Dinsdag18 Junie 2024 het wildbewaarders ‘n groep verdagtes op heterdaad betrap. Twee van die verdagtes is in die botsing doodgeskiet en wildbewaarders het op ‘n jaggeweer, ammunisie en ander stropertytoerusting beslag gelê.
Die polisie ondersoek die sake.
“Die voorvalle, wat kort op mekaar in die Krugerwildtuin plaasgeving het, beklemtoon die gevaarlike omstandighede waaronder wildbewaarders werk. Dit benadruk veral die risiko wat wildbewaarders loop om teen swaar gewapende verdagtes te staan te kom,” het JP Louw, kommunikasiehoof van SANParke gesê.
Volgens Louw word die oostelike grensgebied van die wildtuin steeds erg deur stropers geteister. DIt plaas groot druk op teenstropingseenhede.
“SANParke oorweeg tans verskeie ingrypings om stropingsrisiko’s teen te werk, insluitend die mobilisering en ondersteuning van die gemeenskap.”
(Maroela Media)