Man sterf nadat motor van hoë gebou in Overport neergestort het

’n Bejaarde man is dood nadat hy glo sy voertuig in ’n muur op die vierde verdieping van ’n hoë gebou in Durban agteruitgery het.

Mense in die Overport-omgewing in Durban het vanmiddag die skok van hul lewens gekry toe ‘n motor op die boonste verdieping in die parkeerterrein van die Atrium-winkelsentrum skielik deur ‘n muur geploeg en omgeslaan het en vier verdiepings onder – op sy dak – tot stilstand gekom het.

Die bestuurder van die voertuig, vermoedelik ‘n man in sy 70’s, het glo beheer oor sy motor verloor, wat in ‘n muur van die parkade ingeduik het, wat tot die gru-ongeluk gelei het. Hy was alleen in die voertuig.

Volgens Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS Paramedics, het die voorval om 12:20 plaasgevind, en die bestuurder is binne die voertuig geassesseer aangesien hy erg in die wrak vasgekeer was.

“Paramedici het die pasiënt geassesseer en gevind dat hy ongelukkig noodlottige beserings opgedoen het, en daar was niks wat paramedici vir hom kon doen nie,” voeg Jamieson by.

Die Durbanse brandweer en metropolisie se soek-en-reddingseenheid was op die toneel om die Jaws of Life en ander hidrouliese toerusting te gebruik om die man uit die wrak te sny.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui