Die ouers van ‘n 2-jarige dogtertjie van Alberton wat 3 jaar gelede op die sypaadjie voor haar ouerhuis dood verklaar is nadat sy aan erge mishandeling onderwerp is, is skuldig bevind aan haar moord.
Die 30-jarige ma en 41-jarige pa is in die rondgaande Hooggeregshof in Palm Ridge in Alberton is ook skuldig bevind aan verkragting en kindermishandeling. Albei is vrygespreek op die aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer op die dogtertjie se boetie.
Regter Mokate Noko het gesê die dogterjie, wat voor haar dood erg mishandel is, se liggaam het die bewyse gedra van dit wat sy in haar kort lewe deurgemaak het.
Maroela Media het voorheen berig dat die ma getuig het dat die dogtertjie in haar arms dood is waarna sy haar man per SMS in kennis gestel het van die afsterwe van die dogtertjie. Die dogtertjie is op 11 Mei 2021 voor haar ouerhuis op ‘n sypaadjie deur paramedici dood verklaar.
Die ma het voorheen getuig “sy was bang vir die “abuse” en dat haar kinders weer van haar weggeneem sal word.”
Die ma wat laat blyk het dat sy en die pa nog getroud, maar vervreem is, het gesê die dogtertjie en haar sibbe, onderskeidelik 5 en 8 jaar oud, is voorheen drie keer uit haar sorg verwyder deur maatskaplike werkers weens dwelm- en alkoholmisbruik.
Vonnisoplegging begin na verwagting op 1 Augustus 2024.