Landwye herdenking van Konsentrasiekampdag ‘aangrypend’

Gemeenskappe landwyd het die naweek Konsentrasiekampdag herdenk ter ere van ’n betekenisvolle geskiedkundige gebeurtenis.

Die dag was herdenk in Nylstroom en Turffontein. In Irene en Vereeniging, van Maitland regdeur tot in Simonstad.

Lord Roberts, Britse bevelvoerder in Suid-Afrika tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) het op 16 Junie 1900 ’n proklamasie uitgevaardig wat die verskroeideaardebeleid amptelik verklaar het. Daarmee wou die Britse weermag die Boerekrygers van Transvaal en die Oranje-Vrystaat se moed breek.

Plaashuise is afgebrand en voedselvoorrade vernietig. Minstens 30 000 wonings het in die slag gebly, duisende vee is afgemaai en gesaaides is vernietig. Voor die oorlog was daar ongeveer 1 miljoen beeste, 200 000 perde en 1,5 miljoen skape in Transvaal. Ná die oorlog het net ’n vyfde van die beeste en ’n kwart van die perde en skape oorgebly.

Presies 124 jaar ná die begin van die verskroeideaardebeleid het ’n groot groep mense in Vereeniging by die Konsentrasiekampbegraafplaas bymekaargekom om die nalatenskap van die oorlog se helde lewend te hou deur Konsentrasiekampdag te herdenk.

Die FAK se kultuurnetwerke bring elke jaar hulde aan die vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gesterf het weens uithongering, ontbering en siekte.

Volgens Kobie Ströh van GGSA Vaal, Vaaldriehoek Kultuurnetwerk, het sowat 90 mense die dag bygewoon. “Die Konsentrasiekampdag dien nie net as ’n oomblik van herinnering nie, maar ook as ’n viering van Afrikanerkultuur en geskiedenis. Vanjaar se verrigtinge het veral die rykdom van Afrikaanse geskiedenis en taal beklemtoon. Die dag het aangrypende gedigte gehad wat die geskiedkundige gebeure pragtig uitgebeeld het.”

Die verrigtinge is geopen en afgesluit deur die Vryheidsmonument Voortrekkers. Past. Pieter Kriel het ’n treffende boodskap gelewer met ’n ernstige vermaning dat daarteen gewaak moet word dat ’n Godvresende volk nie verander in ’n goddelose volk nie.

Ströh vertel die geskiedkundige aanbiedings het die gehoor geboei, veral die uitbeelding van die Britte deur Mark Walkden, Hubert Sowerby en hul helpers.

Daar was ook emosionele voordragte deur Adriana Human, haar dogter Sonja en Peet Schabort en het diep sentimente onder die aanwesiges ontlok.

“Een van die hoogtepunte by vanjaar se herdenking was ’n unieke optrede deur lede van die Vaal Kultuurnetwerk en studente van Chalkboard Champs, ’n plaaslike skool vir kinders met spesiale behoeftes,” sê Ströh.

Sy voeg by dat simboliese gebare bygedra het tot die betekenis van die dag, met Boer en Brit wat hand geskud het en pa’s en jong mans wat doringbome plant as ’n teken van hoop vir die toekoms.

Die Vaalrivier-Volkspelelaer het bywoners vermaak met tradisionele volksliedjies, wat gemeenskaplike sang aangemoedig het. Boonop het jong Quan van Zyl die kuns van sweepklap op musiek ten toon gestel en die gehoor met sy vaardigheid beïndruk.

In ’n oomblik van stil nadenke het die deelnemers blomme en kranse onder ’n lang lys name neergelê, ter ere van diegene wat hul lewe verloor het.

Hierdie spesiale geleentheid het opnuut die kollig laat val op die geskiedenis van die ABO en mense herinner waarom dit belangrik is om dié manne, vroue en kinders wat tydens die oorlog hul lewe verloor het, te onthou én jaarliks te herdenk, sê Jan-Danie Malan, FAK-kultuurkoördineerder in die Vrystaat.

“Op Konsentrasiekampdag en soortgelyke dae word mens jaarliks herinner waarom dit belangrik is om die ryk kulturele erfenis van ons land en sy mense te vier en te onderhou, en die FAK hoop dat dié dag mense inspireer om betrokke te raak en hul deel te doen vir die bewaring en uitbou van die Afrikanerkultuur en -geskiedenis.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui