Groot dele van Dennesig sedert Vrydagmore waterloos, inwoners woedend

Talle huise al vier dae sonder water

Dennesig DA wyksraadslid Johann Dyason vra dat Dennesig inwoners asseblief water spaarsamig moet gebruik, nadat groot dele van die buurt al sedert Vrydagmore waterloos is.

Dis veral die hoogliggende dele van Dennesig wat geraak word.

Die reservoir is tans besig om op te vul, maar dit is nie net die reservoir wat moet volloop vir water om by huise uit te kom nie, maar die hele ondergrondse netwerk.

Die munisipaliteit het Vrydag kleppe op die waternetwerk vervang, en vanmore vieruur het ‘n waterpyp in Jakarandatsraat gebars, wat beide Kanonkop en Dennesig se watertoevoer nadelig geaffekteer het.

Herstelwerk is klaar, en water word nou na beide woongebiede gepomp.

Laerliggende areas sal tans kan water tap maar raadslid Dyason vra inwoners om spaarsamig te wees, sodat die hele netwerk, insluitende die reservoir kan voltap, en almal water kan kry.

Kanonkop inwoners sukkel ook al die hele naweek met lae waterdruk.

Beide areas word hoofsaaklik nog van water deur verouderde asbespype voorsien, wat gereeld bars.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui