NUMSA bereik dooiepunt met Gautrein oor looneise

Die National Union of Metalworkers of South Africa (NUMSA) het gesê hy het ‘n dispuut by die Kommissie vir Versoening Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) teen Gautrein aanhangig gemaak nadat hy ‘n dooie punt met die bestuur oor looneise bereik het.

NUMSA is die meerderheidsvakbond vir Gautrein-werkers.

Die vakbond het gesê onderhandelinge het op 17 April begin en die laaste vergadering is op 11 Junie gehou waar die samesprekings ’n dooiepunt bereik het.

Die vakbond eis ‘n verhoging van 13% oor die hele linie, hulle wil hê Gautrain moet 60% bydra en werknemers 40% tot mediese fonds bydra, en ‘n maandelikse behuisingstoelaag van R2 000 vir elke werknemer.

NUMSA-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, het bygevoeg dat werkers in die verlede vir vyf dae by die werk moes aanmeld, maar toe is dit na ses dae verander.

Meer hieroor

“Werkers is nie vir hierdie bykomende ure vergoed nie en ons eis dat hulle hiervoor vergoed moet word. Voortaan moet hulle die oortydtarief vir die 6de dag betaal word,” het Hlubi-Majola gesê.

Boonop het Hlubi-Majola gesê hulle eis ‘n gewaarborgde bonus omdat die base by Bombela Operating Company, die maatskappy wat die Gautrein bedryf, vir hulself en kantoorwerkers R22 000 bonusse gegee het.

“Maar blouboordjiewerkers word ‘n gewaarborgde bonus geweier. Hulle het ‘n aansporingsbonus wat vereis dat hulle eers aan sekere vasgestelde kwalifiserende kriteria moet voldoen om betaal te word. Dit is onregverdig en ons eis gelyke behandeling vir alle werkers,” het Hlubi-Majola gesê.

Hlubi-Majola het gesê hulle wag nou vir ‘n datum vir versoening met die KVBA.

“Ons doen ‘n beroep op die base by BOC om terug te kom na die tafel met ‘n voorstel wat ‘n staking by Gautrein kan voorkom,” het sy afgesluit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui