Ná ‘n ontploffing op ‘n skip wat in Tafelbaai-hawe vasgemeer is, is een persoon dood terwyl vier ander hospitaal toe geneem is.
Na verneem word, het ‘n stikstoftenk laat Maandagmiddag ontplof terwyl die bemanning op die Realeka, ‘n vistreiler wat deur die Oceana-groep besit word, gewerk het.
Oceana Group is een van Afrika se grootste visvangmaatskappye met ‘n geskiedenis wat honderde jare terug strek.
Luidens ’n verklaring van Oceana Group Beperk se kommunikasiebestuurder, Tiana Fataar, het die gasontploffing plaasgevind terwyl ’n vervaardigingspan op die skip gewerk het.
Sy verduidelik: “’n Vervaardigingsmaatskappy was besig om nuwe toerusting op ons vaartuig Realeka te installeer en te toets as deel van ‘n vaartuigopgradering, langs Elbow Quay, toe ‘n ontploffing aan boord plaasgevind het.
“Ons is jammer om te bevestig dat daar ‘n sterfte was. Twee mense word vir ernstige beserings behandel en sommige vir ligte beserings.”
Die Stad se mayco-lid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, sê noodpersoneel het dadelik op die oproep om hulp gereageer, maar is ingelig om terug te staan.
Smith bevestig: “Die Brand- en Reddingsdienste van die Stad Kaapstad het gereageer, maar is deur die Hawe-owerheid en die eienaars van die skip verwerp.”
Hy sê egter ‘n tweede versoek is ontvang dat noodpersoneel na die plek moet terugkeer om die masjienkamer van verkoelingsgas, wat ‘n ammoniakbevattende kombinasie kan wees, te ventileer.
Beamptes het ook gasopsporingsmeters versoek om die terrein te monitor terwyl ‘n Hazmat-tegnikus glo ook op die toneel was.
Fataar sê die voorval sal volledig ondersoek word, maar hul prioriteit is nou om enige bystand wat hulle kan aan die families van die slagoffers te verleen.
Sy voeg by: “Ons gedagtes is by al die geaffekteerde gesinne, en ons werk saam met die vervaardiger om die nodige ondersteuning te verskaf.”
Ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê kontrakteurs was Maandag besig met herstelwerk aan ‘n treiler in die Kaapstadse hawe toe ‘n noodlottige ongeluk plaasgevind het, wat ‘n man van 49 jaar dood gelaat het.
Swartbooi het verder bygevoeg dat die slagoffer deur die mediese personeel op die toneel dood verklaar is.
“Vyf mans wat beserings opgedoen het, is na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer vir mediese behandeling,” het hy gesê.
Hy het ook gesê die Tafelbaai-hawepolisie het ‘n geregtelike doodsondersoek vir verdere ondersoek geregistreer.
