Verskeie skote is tydens ‘n vergadering in Michausdal afgevuur. Die burgemeester was ook teenwoordig toe die skietvoorval plaasgevind het.
‘n Geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergadering in die Sonskyn sentrum in Michausdal in die Oos-Kaap het gisteraand in chaos ontaard nadat skote afgevuur is.
Inxuba Yethemba-munisipaliteit se Burgemeester, Noncedo Zonke, was genooi om die vergadering (wat om 17:00 begin het) toe te spreek rondom die kragtoevoer wat reeds vir 70 dae geblok is.
Volgens ‘n bron, het inwoners tydens die vergadering hulle ongelukkigheid uitgespreek waarom sommige wat reeds die 25% van agterstallige premies betaal het, asook reëlings met die munisipaliteit getref het vir die afbetaling van die uitstaande bedrag, se kragtoevoer wéér deur die munisipaliteit geblok is.
Volgens ‘n verteenwoordiger vanuit die vergadering, het die inwoners geweier om Zonke se teenwoordigheidsregister te teken, nie voordat sy dié kragsituasie met hulle bespreek nie.
Dit is nog onbekend wie op die inwoners begin skiet het, en word daar beweer dat dit moontlik sekuriteitswagte of selfs Zonke se eie lyfwagte was.
Dit is ook onseker wie die opdrag gegee het om op die inwoners te skiet. Die Graaff-Reinet Advertiser sal sodra meer inligting rondom die voorval bekend word, berig.