Inligting verkry vanaf skole.co.za. Foto ter illistrasie
Afrikaanse ouers moet die hand al dieper in die sak steek om gehalte onderwys vir hul kinders te verseker en ouers in Pretoria betaal gemiddeld die meeste skoolgeld van almal.
Skakel in op ons Facebook blad om op hoogte te bly omtrent die nuus en akruele sake:
https://www.facebook.com/groups/volkskragnuus
Indien jy jou kind in ’n Afrikaanse skool in Pretoria wil plaas, moet jy bereid wees om gemiddeld R27 735 per jaar vir ’n hoërskool en R14 600 vir ’n laerskool op te dok.
’n Opname deur die Skole ondersteuningsentrum (SOS) onder 110 Afrikaanse openbare skole landswyd, wys die duurste Afrikaanse skole is in Pretoria. Die data is ingevorder deur ’n vraelys na lede van die SOS uit te stuur, sowel as om skole direk te kontak vir die inligting.
Lys van duurste skole in Pretoria
- Afrikaans Hoër Seunskool R41 000 per kind per jaar
- Afrikaans Hoër Meisieskool R40 000 per kind per jaar
- Hoërskool Menlopark R37 000 per kind per jaar
- Hoërskool Waterkloof R32 400 per kind per jaar
- Hoërskool Garsfontein R30 000 per kind per jaar
- Die duurste laerskool is Lynnwood Laerskool, teen R21 465 per kind per jaar
Hierdie is slegs die jaarlikse skoolfonds en sluit boeke, Skryfbehoeftes en alle ander onkoste vir die sak van die ouers uit!
Die koste van ’n kind se skool loopbaan by die duurste laerskool en Hoërskool sal R 355 255 uit die ouer se sak jaag vir ’n 12 jaar skool loopbaan.
Die spesifieke skole het ’n gemiddelde leerlingtal van nagenoeg 1300 leerlinge per jaar.
In die geval gaan VOLKSKRAG NUUS die duurste skool, Afrikaans Hoër Seunskool as ’n voorbeeld gebruik. Gestel die skool het 1300 leerlinge in ’n jaar. Wat is die totale inkomste vir die skool per jaar aan skoolfonds? Met ’n gemiddeld van 1300 leerlinge teen R41 000 per kind kom dit op ’n totaal van R 53 300 000 per jaar aan skoolfonds inkomste vir die skool uit.
Hoërskole in die res van Sentraal-Transvaal, insluitend Johannesburg, die Oos-Rand en die Vaal Driehoek, se jaarlikse skoolfonds beloop gemiddeld R16 397, heelwat minder as in Pretoria. Die duurste Afrikaanse skole hier is Noordheuwel, teen R27 200 ’n jaar. Laerskole in die res van Sentraal-Transvaal beloop gemiddeld R12 900 ’n jaar.
Teen R22 574 ’n jaar is hoërskole in en om Kaapstad duurder as in Johannesburg, maar steeds nie so duur as in Pretoria nie. Laerskole in Kaapstad en omliggende areas vra gemiddeld R13 469 ’n jaar, ook goedkoper as in Pretoria. Die duurste skool waarna die SOS hier gekyk het, was Paul Roos Gimnasium, teen R37 000 ’n jaar vir 2019.
Hoërskole in die Vrystaat se skoolfonds vir volgende jaar is gemiddeld R16 485 en vir laerskole sal ouers volgende jaar gemiddeld R9 401 betaal.
Melanie Buys, onderwysspesialis verbonde aan die SOS, sê skole in Pretoria loop deur onder besonders duur munisipale kostes. “Skole is maklike teikens vir munisipaliteite om tariewe soos water, elektrisiteit en eiendomsbelasting te verhoog. Van die skole hier het ook baie duur betaal om slim meters (smart meters) te laat installeer,” sê Buys. Die hoof van ’n laerskool in Pretoria sê “Tshwane-stadsraad” het die skool verplig om ’n slim meter te installeer en nou betaal hulle R12 000 ’n maand net om die meter te hardloop. “Ons het boonop geen manier om te weet hoe akkuraat die meter is nie en betaal soms tot R130 000 ’n maand aan elektrisiteit,” sê die hoof.
Die SOS se opname het ook gewys dat die skoolfonds van openbare skole vanaf 2018 na 2019 ver bo inflasie toegeneem het – in sommige gevalle met tot 19%.
“Hoewel Afrikaanse skole se finansiële bestuur baie goed is, word skole genoodsaak om die skoolfonds te verhoog, omdat al meer ouers jaarliks kwytgeskeld word van skoolgeld. Skole word deur die wet verplig om ouers wat nie die skoolfonds kan bekostig nie, kwyt te skeld, maar provinsiale regerings vergoed skole vir slegs ’n minimale persentasie van die bedrag wat hulle jaarliks kwytskeld,” sê Buys. “Daarom dat ander ouers nou ’n bykomende las moet dra ten einde die skool se inkomste aan te vul”